Novae Library

Meer oor Novae

Die aanlyn biblioteek is ontwikkel om jou kind se leesvaardighede te ontwikkel.

‘n Liefde vir lees beteken soveel meer avontuur en wonder in die lewe – jy word blootgestel aan soveel meer as die borrel waarin jy woon en die versamelde kennis van die hele wêreld is beskikbaar om jou horisonne te verbreed. Wêreldwye kommunikasie ontsluit geleenthede waarvan ons voorvaders maar net kom droom, en almal moet kan lees met selfvertroue om deel te kan hê aan hierdie wonderlike wêreld en web van idees.

Monique en Anel, twee gekwalifiseerde grondslagfase onderwyseresse, het besluit dat hulle hulle passie vir lees wil oordra aan kinders met ‘n unieke, kleurvolle en meevoerende reeks boeke. Ons nooi jou saam op dié avontuur om lees saam met jou kind of leerders in jou klas te verken. Ons mik om ‘n liefde vir lees te kweek, selfs nog voordat kinders kan lees.

 
 

Novae se reeks storie- en leesboeke is ‘n taalontwikkelingsreeks. Jong lesers word gelei om te leer dat klanke en letters saam werk om woorde te vorm. Woordkeuses in die leesboeke is gelei deur die grondslagfase leerder se leesvlak, en word uitgebrei soos die leser vorder sodat die leerder se woordeskat saam met sy leesvaardighede groei.

Leerders leer om woorde te ontsluit deur woorde te klank en sigwoorde te herken. Die leser leer dat daar ‘n verhouding bestaan tussen ‘n letter en ‘n klank, en so word klankbewustheid geleer. Soos wat die lesers bewus raak van hoe die letters saam funksioneer, leer hulle dan ook hoe om nuwe, onbekende woorde te lees en te verstaan.

Hierdie leesreeks is gebasseer op die Elektiese leesmetode. Dit kombineer die kyk-en-sê-metode en die klankmetode.

Novae se Pippa en Pol stories is geskryf spesifiek vir die moderne kind, en bevat prettige stories wat betrekking het op vandag se gebeure, om te verseker dat dit in die jong leser se verwysingsraamwerk is. So maak ons seker dat die jong leser met die karakters kan identifiseer, terwyl die stories se helder, kleurvolle illustrasies ook verseker dat die balans tussen realiteit en meevoering die kind prikkel om te wil weet wat volgende gaan gebeur.

Ons leesreeks is ontwerp om verskillende lees- en leerstyle in ag te neem. Elke leesboekie kombineer verskillende aanslae tot die leerproses, om ‘n wye reeks individuele leerstyle te vergemaklik.

Ontmoet die span

Novae Uitgewers is ‘n uitgewersmaatskappy wat in 2018 gestig is deur twee gekwalifiseerde grondslagfase onderwyseresse, met die doel om die liefde vir lees wat hulle self het by kinders te kweek, soos wat hulle leesvaardighede ontwikkel. 

In sy kort bestaan het Novae alreeds heelwat gegroei – die Pippa en Pol-reeks bestaan alreeds uit 60 boeke met bypassende storiekaarte, en boekstelle en omnibusse is ook al op die rakke. Die reeks sal binnekort ook in Engels beskikbaar wees, en ander projekte is aan die ontwikkel om verder uit te brei aan wat Novae aan lesers bied.

Novae se aanlynbiblioteek stel nou hierdie hele avontuurwêreld beskikbaar ter enige tyd en enige plek.

Anel Ubbink is aan bestuur van sake by Novae. Haar passie, kreatiewe denke, en ondervinding as onderwyseres stel haar in staat om elke projek te koester en te kweek tot sukses. Monique Janssens is die mede-direkteur van Novae, en skrywer van die Pippa en Pol reeks. Sy is al vir amper 30 jaar lank ‘n grondslagfase onderwyseres, en van haar grootste passies in die lewe is skryf, taal en lees. Die unieke, moderne en meevoerende reeks boeke  wat Pippa en Pol is, is te danke aan Monique en Anel  se visie, terwyl ons pragtige, kleurvolle illustrasies te danke is aan Ammie Miske – ons illustreerder en kunstenaar wat deur wyle Alex van Houwelingen gementor is. Op haar jong ouderdom is haar illustrasies alreeds gepubliseer in boeke oor die hele wêreld. Michelle van Jaarsveld timmer die taal reg vir Novae in die boeke en enige ander geskrewe stukke, terwyl sy ook vertaal en help met die skryf van kopie vir bemarkingsdoeleindes. Sy het ‘n tale-graad en amper 15 jaar se ondervinding met verskillende rolle wat met taalwerk te doen het. Ons hardwerkende en kreatiewe grafiese ontwerpers is Ilze van Houwelingen en Reuben Kotzé. Ilze spesialiseer in die uitleg van ‘n verskeidenheid van boeke, en het 15 jaar ondervinding, ook by groot uitgewers.  Reuben is ‘n nuwe toevoeging tot die Novae-span, en hy pas goed en vinnig aan by ons styl. Hy is ongelooflik kreatief en sy uitgebreide ondervinding maak hom baie kundig in sy veld.

Anel Ubbink

BESTURENDE DIREKTEUR

Monique Janssens

DIREKTEUR EN SKRYWER

Michelle van Jaarsveld

TAALVERSORGER

Ilze van Houwelingen

GRAFIESE ONTWERPER

Reuben Kotzé

GRAFIESE ONTWERPER

Ammie Miske

ILLUSTREERDER